Sprinkaan se eie storie.
Ekke is Sprinkaan. My naam het ek
gekry van my besondere kenmerkende groen kleur. Ek is ʼn Atos Prime van die Hyundai familie, wat
gebaar is in 2001. Ek is geseënd met ʼn
1000cc enjin. Dit maak van my ʼn gedugte
voertuig, met vele talente. Ekke het nie
ʼn bang haar op my bakwerk nie. Elke uitdaging is ʼn geleentheid!
Dis Ekke die, al is
dit my gatkant.
My
naam is alombekend - Sprinkaan!!
Aanvanklik was ekke ʼn demonstrasie
model vir een volle jaar. Ek is net
gebruik vir vertoon aan almal wat geïnteresseerd was om ʼn Atos te koop, min het
hulle geweet. Na die 'boring' tydperk
het ekke ʼn nuwe eienaar gekry. ʼn
Aantreklike dame.
Eers het ons twee ʼn rustige lewe
van stadsgewoel gehad, dis mos waarvoor sy my aangeskaf het. Vlugtige voete (bedoel wiele) in die stad. Lae brandstof verbruik, vinnig in en uit die
parkerings, rats deur die verkeer en al die dinge van die stad.
Op ʼn dag spring sy agter my
stuurwiel in en sy vat my deur die stad. Die oop pad na Magaliesburg, die platteland
in. Wat ʼn wonderlike voorreg, lekker oop pad. Opdraandes en afdraandes,
draaie en swaaie. Natuurskoon op sy
beste en wind en vars lug deur my hare en longe of is dit die radiator of so
iets? Dit was asof ek vir die eerste
keer vry gelaat is. Ek het eers nie
besef wat my getref het nie, maar na die derde keer, het ek besef hierdie week
se stad ding en naweke na die plaas dinge, begin nou gereeld raak. Met die intensiteit waarteen ons beweeg het,
op ʼn Vrydagmiddag, het my tot die slotsom laat kom dat hier iets ernstig besig
is om te gebeur. Sy het liefde gevind, en
ek het die liefde laat groei en gebeur.
Daar het hy agter die stuur ingeskuif.
Onmiddellik het ons gebond.
Die aanvoeling was wederkeurig. Ekke het geweet hier is nou twee vrygeeste wat
my vrygees gaan komplimenteer. Die
verhouding het gegroei. Die eerste laaang
pad was toe daar besluit is dat ons vir die Boesmans in Ganzi (Botswana) gaan
kuier. Wat ʼn 'thrilling experience’ toe
ons die sandpad aanpak. My hoë grondvrye
hoogte het die ding gedoen. Ons het die
toets weerstaan. Daar het ons vir twee
weke gebly. Ekke het dieselfde Boesman
gevoel gekry van vry wees in die skepping. Die naby die aarde ding!
In die nuwe saamgestelde gesin is
daar vyf kinders. Wanneer hulle saam in
my klim dan voel ek soos ʼn swanger vrou
of ʼn Taxi tot oorlopens volgepak. Soms het
ek die ooievaarsgevoel gekry - ‘daardie ding wat die kinders bring’. Ek voel dan soos die Poskantoor se leuse: “I
deliver whatever it takes”. Dit was
aangenaam om die spulletjie te vervoer, kinder laggies en sports soos ons ry! Nooit ʼn vervelige oomblik nie! Daar is ʼn Tourette dogtertjie wat groot
konsternasie op ʼn gereelde basis veroorsaak het. Hulle het haar sommer in my gat gelaai om haar
uit die konflik te hou. Ek het die sage
terdeë geniet, wat baie humoristies was. Dit het ʼn glimlag op my gesig gesit. Ek was ook so gewild onder die kinders dat ek
hulle gehelp het om hul bestuurslisensies te kry. Dit was wel ʼn trotse gevoel as hul met die
lisensie sien uitgestap kom en ek weet dat ek ook my kant gebring het. Ek moet darem ook bysê, dat hul my soms
benoude oomblikke besorg het.
Dit was nie lank nie, toe bly ons
in Pretoria. Dan doen ons die stad ding
in die week. Ekke kon nie wag dat naweke
aanbreek nie. Dit is dan wanneer die
twee onrustig raak, ekke ook. Die
volgende oomblik as hulle met ʼn tas die huis uitkom, word die tas in my
kattebak gelaai, en dan vertrek ons. Ekke
is dan sommer opgewonde en uit my vel, (bedoel bakwerk). As ek ʼn stert gehad het sou ek die ding
aanhoudend gewaai het, en hulle sommer begin lek het. Dan het ek geweet daar is avontuur op hande. Ons drie gelukkige nuuskierige avonturiers. Plase toe, slagvelde, Poskantore, berge in. Feeste, uitstallings, markte en elke ding gaan
bekyk word. By elke interessante plekkie
word gestop en gekyk, gekiek en versamel. Ekke, die getroue voertuig vat hulle veilig. Ekke is op my gelukkigste as ons die
platteland gaan beleef.
Vakansies is die opwindendste. Die plekke waar hulle my vat is wyd. Ver en soms baie ver en afgeleë en soms
onbegaanbaar. As hulle eers begin beweeg
dan beweeg ons. Ons gaan jag en versamel
tipiese Boesman gedrag. Sneeujag, poskantore
jag, slagvelde jag, monumente jag, maar jaag, jaag ons. Dit is deel van ons pret. Opwindende en onvoorspelbare pret. Dan word ek vol gelaai van goeters wat hul
langs die pad optel of koop. By elke
plek word daar ʼn klip of ʼn enamelbord of net iets wat vir hulle anders is,
versamel. Hulle het geweet hul kan
vergaar en versamel en ek kon die vrag vat.
Ons doen dit nie gereeld nie, maar
sonder om groot te praat of te spog, skop ons sommer vir die lekker die 4x4
manne se gatte. Ekke is dan al gebruik
om ʼn Landrover wat ʼn pap band gehad het tussen Witsand en Groblershoop te help.
Witsand. Die arme
Discovery het sy wiel afgeskryf. Gelukkig kon ons help.
Nogal ʼn trotse gevoel om te kan
vertel dat ek as ʼn 'Landrover recovery vehicle' gebruik is. Die manne wat hul hemde so graag laat borduur
om te bewys hul is kranige besitters van die voertuie hou nie baie van die
storie nie.
Plekke waar ander net droom om te
gaan, daar was ons. Kalahari, Van
Zylsrus, Durban, Witsand, Riemvasmaak, Oranjemund, Alexanderbaai, Koffiebaai, Katsedam,
Krugerwildtuin, Messina, Maputo, noem die plek, ons was daar! Sneeu, sand, modder, teer, bosveld, savanna,
niks waarvoor ek skrik nie!
Op pad na Katsedam.
Hier het ek berge
Mafika Lisiuepas. Baie naby aan die Hemel.
versit!
3090m bo seespieël!
Maputo. Oorgrens is
ek mal oor!
Vredefort koepel - Parys
Koffiebaai. Dit was
pragtig hier!
Katsedam. Sneeu is nie vir my ʼn
probleem nie. Op eish ja!
Waar Basotho ponies
gaan,
Clarens. Wragtig dit was koud
die nag.
daar kan ek ook
gaan!
Port Nolloth. Ons
was amper in Namibië
Mont-aux-Sources, sommer so in
die ry!
as die diamant
magnate ons nie gekeer
het nie!
Naude’s Nek Pas tussen Maclare en
Rhodes, dit is ʼn ander storie waarop ek ongelooflik trots is. Man, ons het van Port St Johns gekom waar ons
die oggend nog in die son gebak het by die see. Toe ons by Maclare kom, het ons die besluit
geneem om na Rhodes te gaan. Die kortste
pad was toe oor Naude’s Nek Pas (dit is die hoogste pas in SA wat ons later
uitgevind het, nogal grondpad). Wel ons
is mos nie bang nie! Bo-op het ons sneeu
en ys gekry, my bakwerk het gebewe van die koue. My mense het uitgespring en al wat klere is
aangetrek, so koud was dit. Toe het ons
die kronkels en gladde-nat pad aangedurf. Ons het benoude boude gehad van afgronde en U
draaie, maar ons het gevorder. Die einde
was in sig toe ons by die familie begraafplaas aan die ander kant van die pas
aandoen. Daar het ons na die pad gestaar
waarvandaan ons gekom het. Daar het dit
gestaan ..., "slegs 4X4 voertuie toegelaat op die pad". Wel, ja, ons is toe al deur en af van die pas.
En ek is nie eens ʼn 2X4 nie wat van ʼn 4X4? Weet jy hoe het ek gevoel ...? Die trots het uit my bakwerk gestraal, wat ʼn
oomblik van 'Fame'!!
Naude’s Nek Pas. ʼn
Droom vir die 4X4’s. 2500m bo seevlak en ek was daar!
Die ander storie wat ek julle graag
van my wil vertel, is ons besoek aan Riemvasmaak. Dit is so afgeleë daar, dat
as jy ʼn gebed doen, jy eers vir die Grootbaas ʼn GPS verwysing moet gee. Ons was op Augrabies toe ons die pad vra. Hulle het verduidelik dat ons of terug na
Upington toe moet gaan en dan die veilige pad deur die ‘village’ ry. Dit was die aanbeveling. Die ander moontlikheid was om oor die Oranje
rivier te gaan. Hulle sal nie die pad
aanbeveel nie veral nie met my nie,
want selfs 4X4 voertuie sukkel om daar deur te kom. Dit was net die aansporende woorde wat ons wou
hoor. Ons het vanselfsprekend die
moeilike pad gekies. Dit was geen
probleem nie maar meer van ʼn uitdaging.
Die natuurskoon was ongelooflik, in
die sin dat ons nog nooit so ʼn deurmekaar gedeelte van die Skepping beleef het
nie. Hier is geen orde nie, klippe-sand
en rooi-, wit-, swart- en geel sand en klippe als teenstrydig met orde. Kleure van die rotse varieer om elke draai van
die pad. Daar is geen struktuur nie, dit
is blooteenvoudig ʼn konglomeraat van verrassende ervaringe. Al afleiding wat ek kon maak, is dat die deel
van ons land definitief op die agtste dag gemaak is. Met alle piëteit moes God al moeg gewees het
na die eerste sewe dae van Skep en dat Hy hier bietjie afgeskeep het. Toe my vroulike insittende uitvind dat die pad
meestal van rooskwarts gebou is, kon ons haar nie inhou nie. Sy het begin versamel en ingelaai. My gat het later gehang soveel so, dat ons
moes stilhou en vir haar vra om uit te pak en net die ‘mooies’ mag kies, sodat
ek nie oorlaai word nie. Sy het so
gesukkel met die kiesery, want almal volgens haar was mooi. Eventueel is sy
oorreed, en ek is ligter gemaak. Die pad
verder was net vol uitdagings, klippe, sand, droë rivierbeddings en dan die
dorheid van alleenheid en die onnatuurlike stilte.
Wel ons het gearriveer sonder enige
voorval by die warmwaterbron van Riemvasmaak. Dit was soos om die Hemelpoorte in te gaan. ʼn Onvergeetlike ervaring. Hier het ek myself weereens oortref. Moenie dat mense jou intimideer om te sê dit
is onmoontlik nie, enige ding is moontlik as jy in jouself glo!
Hier het mense net
kop geskud –
Al is ek net ʼn stippeltjie, ek was tog op
Witsand.
Riemvasmaak.
Daar was ook swak, (vervangende die
sw met ʼn k) oomblikke in my bestaan. ʼn Ongeskikte
pitbull hond het my eendag, probeer insluk deur my bakwerk te kou. Ek het my gat af geskrik en die pyn gevoel,
maar jy moes my eienaars gesien het toe hul die vieslike vierbeen gedrog gewaar,
wat besig was om my te 'abuse'. Die absolute
gedetermineerdheid waarmee hul die ongedierte verdryf het, en die taal wat
hulle hom toegevoeg het, het my net weereens laat besef dat hul ongelooflik vir
my omgee. Die vertroosting daarna het my
weer nuwe moed saam met die twee gegee.
Op Aggenys het ek amper vergaan van
die hitte. Dit was nie warm nie, dit was
versengend warm (naby die hel!). Dit was
regtig so warm dat ek begin kook het. Ons het by die garage op die dorp
aangegaan waar hulle ons meegedeel het, dat die simptoom algemeen is in die
area. Hulle het vir my ʼn ‘chamois’ om
die waterpomp gedraai, natgemaak, en daar gaan ons volstoom na Port Nolloth en
Oranjemund sonder enige verdere voorval. Ek is gelawe en gered van die hitte.
Die ander keer was waar die hael my
gepiets het in Hazyview. Ek het nogal
onder ʼn skadunet gestaan. Die
intensiteit van die storm kon ek net nie vryspring nie. Dit hael kwansuis nooit
daar nie. My arme lyfie (bedoel bakwerk)
is vol duike gewetter. Die kneusplekke
was pynlik, maar ek het eenvoudig geleer om daarmee saam te leef.
Hazyview. Die hael
het my goed gewetter.
Jy, is bewus dat ek ‘n groter sussie
het, wat hul met soveel gevoel adverteer; ‘she is pretty but tough’. Sy kan die aantreklike gedeelte in goeie reg
wees, ek stem saam, sy is baie mooi. Ekke
is seker nie die aanvalligste motortjie op die pad nie, veral nie met die
sprinkaanagtige voorkoms nie, maar die vet weet, die ‘tough’ gedeelte is ek by
uitnemendheid.
Daar is ook ʼn ander gedeelte van my
wat ek graag wil deel. Behalwe die
normale dinge van enige voertuig soos ʼn spyker in die poot (bedoelende wiel) en
op een stadium my battery het ek die twee nooit in die steek gelaat nie. Nadat my waarborg by die handelaars verval
het, is ek verwys na dr, Andre. Wat ʼn
bekwame man! Op gereelde basis is ek na
hom geneem waar hy my ondersoek het, en die nodige vitale organe vervang het. Na elke diens was ek weer springerig en
lewendig. Geen meganiese dokter het nog
ooit die voorreg gehad om in my ingewande en derms rond te krap nie. Dit sê vir jou baie. Ek is baie goed gebou met die regte, egte Hyundai
DNA. Opreg soos in opreg man!
Ek is heeltemal trots op die lewe
wat die twee vir my gee. Ek dink dat ek
die Atos in die land wat die meeste avontuur gehad het en op plekke was waar
die ander voertuie net van kan droom. As
ek alles in ag neem behoort ek ʼn Ikoon van die Atosse te wees!! Jammer aan die ander wielgenote, jul het
waaragtig uitgemis. Ek is ryk aan
herinneringe en sal dit vir niks in die wêreld veruil nie. Ek is dankbaar dat ek steeds ʼn voorbeeld vir
ander voertuie kan wees, ʼn aanvanklike demonstrasie model wat my vryheid gekry
het. Ekke het nou 200 000 km op my klok
en steeds beleef ons gerieflik die paaie van die land, al is hulle nou so vol
potgate.
Sprinkaan Groete!
NS. Getuigskrif deur Sprinkaan se eienaars
Eerstens is ons vir haar baie lief.
Wat ʼn ongelooflike motor. Ons het soveel onvergete oomblikke met haar
beleef. Sprinkaan het alle verwagtinge van ons oortref, sy het haar
uitpresteer, bo baie ander motors. Aanvanklik
is sy aangeneem om ʼn stadsmotortjie te wees.
Sy het die teendeel bewys, dat sy vir meer as dit geskik is. Ons het toe besef dat sy gemaak is en ʼn hart
het vir avontuur (As mens dit so kan stel?). Met haar goeie petrol konsumpsie (20km/l), kon
ons bekostig om ver met haar te ry. Ons
het haar na baie onbegaanbare en afgeleë areas toe geneem en sy het elke toets
met vlieënde vaandels geslaag. Ons
salueer haar vir haar dapper prestasies. Sy is net ʼn voortreflike en gerieflike motor
met uitstekende deursettings vermoë en werkverrigting met haar 1000cc
enjintjie. Sy het geen bang haar op haar
bakwerk nie. Sprinkaan jou doring! Ons is
baie spyt dat ons nie meer foto’s van Sprinkaan
geneem het, waar sy orals was nie. Sy
het nou die dag haar 200 000km prestasie gevier! Ons
dink nog nie aan haar aftrede nie. Tans beweeg sy nog elke dag in Pretoria se strate.
Sy het die legende van die pad geword.
Enige toekomende koper wat ʼn Atos
wil' aanneem', behoort nadat jy Sprinkaan
se storie gelees het, geensins meer te twyfel nie! Skrik wakker!!
Johan, Karen en Sprinkaan Joubert se intellektuele
eiendom.
0723483254

















No comments:
Post a Comment